
Voorstelling van grassade in die herfs... waterverf bly fassinerend. (MP 2008)
Mens moet ook maar kophou met die blokskrywery… belangrik om vir jouself uit te maak wat jy eintlik daarmee wil bereik. Dis nie my hoofdoel om 900 vriende (name) bymekaar te maak nie; net twee of drie goeie betroubare vriende, selfs ou vriende, is heeltemal goed vir my. Maar dit is eintlik die plesier daarvan om ‘n teks in Afrikaans te skep, sommer ‘n geselsie aan te knoop, of ‘n gedagte neer te pen, wat vir my aantreklik is. Die ritme van ons daaglikse interaksie doen mens tog via e-pos op die gewone manier, of anders oog-tot-oog, mens-tot-mens: daardie onvervangbare kommunikasiesituasie waar lyftaal en die intonasie van iemand se stem soveel kan beteken. In elk geval… wat die www.bloks interessant maak is die moontlikheid om die dagboek van enige plek af oop te slaan; en iets neer te pen wat jy graag wou deel met ander… al kom daardie oomblik eers weke of maande later. Dan is dit vir my gewoon baie lekker om dit bietjie te versier met ‘n foto of ‘n skets. Speelplek dus. Nie net ernstige goed nie. En dit is tog die onderliggende idee van kuns as ons die woord nou nie in hoge terme verstaan nie: die gedagte van ‘n vry-bewegende spel… met potlood, kwas, bol klei of wat ook al. Ons het almal daardie bietjie vryheid nodig in wat ons doen. Selfs by die werk… in enige werksituasie, weet ons dat spel en kreatiwiteit nou ook nie so ver van mekaar verwyder is nie. Nou ja, tot later…. dankie vir twee vriende wat reeds kom kuier het. Ek veg nog bietjie om ingebore skaamwees vir my werk te oorkom… maar ek vorder goed.