
Om gedagtes te kon lees...? MP 2008
Hier het ek ‘n baie vinnige skets gemaak en dit bygedam met waterverf. Daar is niks wat ek kon doen om die voorkoms bietjie op te helder nie – die ietwat nors en ontevrede, skalkse en sydelingse kyk is nie aan te verander nie! Die meeste hiervan is per ongeluk; maar dan hou mens soms van ‘n Freudiaanse of Jungiaanse toevalligheid in die kuns. Punt wat ek wil maak is dat die kuns floreer op die suggestie van die visuele beelde…. dit herinner aan iets wat mens self gesien of ervaar het. In hierdie geval – emosie. Jy wil eintlik raai wat die persoon dink of op die punt is om te se. Dis nou nie die mees suksesvolle portretskets wat ek al gemaak het nie – maar eintlik lekker omdat dit “lewe”… ek sou objektief kon kyk en dan is die estetiese ding eintlik die klerasie om die nek en skouers… die skaduwees miskien. Dis ook die soort skets wat mens maklik weggooi omdat daar te veel foute in is – maar hou dit ‘n slag skuins, en dit begin lyk na iets wat jy liewer wil bere.
