Feeds:
Artikels
Kommentare

Archive for Mei, 2009

Voorstelling van grassade in die herfs... waterverf bly fassinerend. (MP 2008)

Voorstelling van grassade in die herfs... waterverf bly fassinerend. (MP 2008)

Mens moet ook maar kophou met die blokskrywery… belangrik om vir jouself uit te maak wat jy eintlik daarmee wil bereik. Dis nie my hoofdoel om 900 vriende (name) bymekaar te maak nie; net twee of drie goeie betroubare vriende, selfs ou vriende, is heeltemal goed vir my. Maar dit is eintlik die plesier daarvan om ‘n teks in Afrikaans te skep, sommer ‘n geselsie aan te knoop, of ‘n gedagte neer te pen, wat vir my aantreklik is. Die ritme van ons daaglikse interaksie doen mens tog via e-pos op die gewone manier, of anders oog-tot-oog, mens-tot-mens: daardie onvervangbare kommunikasiesituasie waar lyftaal en die intonasie van iemand se stem soveel kan beteken. In elk geval… wat die www.bloks interessant maak is die moontlikheid om die dagboek van enige plek af oop te slaan; en iets neer te pen wat jy graag wou deel met ander… al kom daardie oomblik eers weke of maande later. Dan is dit vir my gewoon baie lekker om dit bietjie te versier met ‘n foto of ‘n skets. Speelplek dus. Nie net ernstige goed nie. En dit is tog die onderliggende idee van kuns as ons die woord nou nie in hoge terme verstaan nie: die gedagte van ‘n vry-bewegende spel… met potlood, kwas, bol klei of wat ook al. Ons het almal daardie bietjie vryheid nodig in wat ons doen. Selfs by die werk… in enige werksituasie, weet ons dat spel en kreatiwiteit nou ook nie so ver van mekaar verwyder is nie. Nou ja, tot later…. dankie vir twee vriende wat reeds kom kuier het. Ek veg nog bietjie om ingebore skaamwees vir my werk te oorkom… maar ek vorder goed.

Read Full Post »

Die banier wat ek bo-aan gebruik is van ‘n akrielskildery en toon ‘n tipies ouer Weskushuisie… was ek daar? Jare gelde, jaaa… in die omgewing van Dwarskersbos, Kersbosdam, sulke plekke; ook by Saldanabaai en Piketberg. Bloot as dagbesoeker natuurlik, ‘n keer oorgeslaap in ‘n plaashuis.   Die huisie waarvan ons hier bo praat het ek egter geskilder volgens ‘n ou foto in Panorama. Onthou iemand nog ons Staatspublikasie genaamd Panorama? Die gryskoppe sal beslis! Daar was nou egte kwaliteit-joernalistiek, puik oorsigtelike artikels, aktualiteit en van die mooiste fotos.  ‘n Familielid van my was die Redaktrise van Panorama vir ‘n laaaaang tyd…. nog meer verbintenisse! Die stories van ons land loop kruis en dwars deur my eie skilderwerk. Dis soos dit hoort.

Read Full Post »

Hier begin ons sommer losweg gesels oor kuns en die ervaring van kuns. Ons het almal die een of ander soort kunsbelangstelling: fotografie, argitektuur, skilderkuns, juwele, beeldhouwerk, musiek of enige ander vorm daarvan. Ek glo elke mens het iets kunstigs om aan te bied, die een of ander vaardigheid: sommige mense kan bou; ander kan tuinmaak of blomme rangskik; ander sing mooi of speel klavier. Dit is seker belangrik dat ‘n mens daardie spesiale kunsvorm waarin jy goed is moet ontdek en beoefen. Kuns het meer om die lyf as net beeldende kuns. Ons praat byvoorbeeld van kookkuns, digkuns of boukuns…. die sleutelwoordjie is KUNS! Ek hoop hierdie blokwerf groei bestendig aan tot ‘n lekker gesprek oor sulke sake. Van my kant af gaan ek sommer van my eie werk gebruik as wegspringplek en materiaal om oor te gesels…. om daarmee iets met lesers te deel oor kuns en die lewe self.

Read Full Post »

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg