Mens hoor dikwels die reaksie: “waterverf is ‘n moeilike medium…”; en dit is dan ’n verskoning waarom mense dit liewer vir die “meesters” los. Jammer dit is so. Punt is dat die meesters almal ook maar onder moes begin het… dit hang af of mens ‘n pad wil loop met ’n kunsmedium.
Mens moet eers uitmaak of jy hou van die medium… probeer en kyk wat gebeur met jou. Volhard ‘n rukkie, leer en kyk af rondom jou van ander se werk – alle kunstenaars is honger kykers, hulle ondersoek alles en leer by almal – steels selfs, maar dit is goed so. ‘n Leerder moet nuuskierig wees, en mettertyd sy eie pad vind… in Karate of krieket kyk jy ook hoe ander ouens dit doen! Nou oor die moeilike medium… enige medium verg so ‘n pad, stap vir stap. Jy is nooit eensklaps net vaardig nie. Dit is waar dat sommige mense groei in ‘n medium en andere bly stilstaan, miskien geblokkeer voel of geblokkeer raak. Skrywers ook..! Ek antwoord dikwels oor die kwessie so: “Hulle het jou vertrou met waterverf toe jy nog net ses of sewe jaar oud was op skool - jou kunsonderwyseres (99% vd tyd) het nie vir jou gewaarsku dis ‘n moeilike medium nie – en siedaar, jy kon toe heerlik verf en te kere gaan en dit geniet. Nou moet jy hoor… dis glo “moeilik”… nonsens! Dis net, jy moet regtig geniet wat jy doen en die resultate kom later. ‘n Kunsplek is ‘n plek waar jy droom, speel, waag, eksperimenteer, ontgin, ontdek, impulsief mag wees, nuwe dinge mag doen, jou eie vertolking en jou eie kop mag volg. Dis hoe ‘n regte kunsplek lyk… daar waar jy kan swerf in jou eie verbeelding. Probeer dit ‘n slag.